Blog

My erfporsie

Fred Craddock vertel dat hy en sy vrou, tydens ’n vakansie in die Smoky Mountains, een aand by ’n restaurant gaan eet het.  Terwyl hulle eet, raak hulle aan die gesels met ’n ouer man wat alleen opgedaag het om ook daar te kom eet.  Soos dit maar gaan met sulke gesprekke, vra hulle vir mekaar hoe hulle die vakansie geniet, waar hulle vandaan kom, hoe lank hulle nog gaan bly, wat hulle doen.  Toe die man verneem dat Fred ’n dominee is, trek hy sy stoel nader en sê dat hy “tog hierdie storie vir hom wil vertel”.

“Ek is nie ver hiervandaan nie gebore – as ’n buite-egtelike kind.  In daardie dae was dit ’n baie groot skande en my ma (en ek) het uitgestaan soos ’n seer vinger.  As ons dorp toe gegaan het, kon ons sien hoe almal ons aanstaar en saggies met mekaar begin praat.  Ons teenwoordigheid het elke keer aanleiding gegee tot ’n spekulasie oor wie tog my pa kon wees.  Dit het só erg geraak dat ek nie meer saam met haar na enige plek wou gaan nie.  By die skool het ek my so skaars moontlik gehou.  Gedurende pouses het ek my gehaas om agter ’n groot boom te gaan sit.  Daar het ek my skoolbroodjies geëet.  Ek wou nie dat iemand my sien nie, want dan spot hulle my en vra of ek weet wie my pas is.  My lewe was eensaam en ondraaglik en uitsigloos.

Alhoewel ek ook nie wou kerk toe gaan nie, was ek gefassineer deur die dominee.  Hy het ’n lang baard gehad, altyd ’n swaelstert-jas gedra en het met ’n diep stem gepraat.  Omdat ek die bespotting van die omgewing was, het ek gevoel ek hoort beslis ook nie in die kerk nie, maar ek wou so graag hierdie man hoor praat.  Daarom het ek op Sondagoggende buite weggekruip tot net voordat hy begin preek het.  Dan het ek ingesluip en op ’n sitplek langs die paadjie gaan sit.  En as hy begin om die seën uit te spreek (terwyl die meeste mense se oë toe was), het ek my uit die voete gemaak – voordat iemand met my kon praat.

Dit het goed gewerk, totdat daar eendag nóg mense opdaag nadat die dominee begin preek het.  Hulle het op los stoele in die paadjie kom sit.  Ek was vasgekeer en het alle moontlike planne bedink om bo-oor hulle, of tussen hulle deur, uit te kom.  Ek het niks gehoor wat die dominee daardie dag sê nie.  Ek was bang en wou nie hoor hoe die mense na die diens vir my gaan vra ‘Wat maak ’n kind soos jy by die kerk?’ nie.  Toe ek my kom kry, was die diens verby en die mense het die gebou verlaat.  Ek was tussen hulle.  Vasgedruk.  Voetjie vir voetjie moes ek maar saam met hulle na buite beweeg.  Ek het net voor my op die grond gestaar.  Gehoop dat as ek niemand sien nie, hulle my ook nie sal sien nie.

En toe gebeur dit.  Daar was ’n hand op my skouer.  Nie maar net iemand wat toevallig, in die gedrang om buite te kom, aan my geraak het nie.  Ek kon voel dit is iemand wat spesifiek aan mý geraak het.  Hierdie hand aan my skouer wou my aandag trek.  Toe ek opkyk, sien ek dis die dominee.  Hy het na my gekyk.  Op sy gesig was daar ’n glimlag – só het ek my verbeel.  Ek kon al hoor hoe hy met sy diep donker stem my voor stok kry dat ek, met my agtergrond, dit waag om in die kerk te wees.  Hy het na my gekyk en ek het beangs na hom gekyk.  Ek wou nog sê ‘Ek is jammer ek is hier’, maar die woorde wou nie kom nie.  En toe praat die dominee:  ‘Seun, jy is die kind van …’  Ek kon nie glo wat hier aan die gebeur is nie.  Hier in die kerk gaan die dominee nou ook deelneem aan die raai-speletjie oor wie my pa is.  Met sy diep stem het ek hom veraf gehoor:  ‘Seun, jy is die kind van God.  Ek kan sy karakter-eienskappe in jou sien.’  En toe gee hy my so ’n klop agter my blad: ‘Seun, gaan nou en eien die erfporsie van jou Pa vir jou toe’.”

Die ou man het stilgebly.  Daar was ’n verwondering in sy oë en ’n glimlag oor sy hele gesig.  Toe gaan hy voort, terwyl hy stip voor hom uitkyk:  Daardie dag is ek gebore.  Daardie dag het my lewe begin.

“Wat is jou naam?”, het Fred gevra.  “Ben”, het die ou man gesê.  Ben Hooper.

Fred het die omgewing en die geskiedenis van Tennessee geken en het dadelik geweet wie dit is.  Hierdie man wat op skool deur die kinders gespot is, was die man wat as volwassene twee keer deur die mense van Tennessee tot hulle goewerneur verkies is.  Ben Hooper, die goewerneur, die buite-egtelike seun van ’n onbekende vrou uit die bergwêreld van Tennessee.

Vir Ben Hooper was daardie dag, en die woorde van die dominee die omdraaipunt in sy lewe.  Ja, as hy terugkyk in sy lewe was daardie dag sy geboortedag.  Van daardie oomblik af het hy gevoel hy is “iemand”.  Hy het gevoel hy behoort en dat hy hier mag wees. 

In Psalm 16 lees ek ook dat die Psalm-skrywer, wat saam met die hele volk Israel in konstante vrees leef, terugkyk en ’n keerpunt raaksien.  Hulle is bedreig deur groot en sterk vyande.  Die driegemente was nie maar net bangmaak-praatjies nie.  By meer as een geleentheid het hulle Israel al aangeval en oorweldig.  Ten minste by een geleentheid het hierdie sterk en wrede vyande hulle as ballinge na ’n vreemde land geneem.  Israel het waarskynlik, soos die seuntjie in ons storie, gevoel dat hulle nie ’n bestaan werd is nie. 

Daar was egter ook hier en daar ’n ligpunt.  Dink maar aan Ester en Nehemia wat goeie werke prysgegee het en teruggekom het om die mure van die stad op te bou.  Dan besef hy dat, ten spyte van al die aanslae op hulle bestaan, is hulle nog steeds daar.  Dan voel hy as’t ware God se hand op sy skouer en sien Hy God se hand van getrouheid in hulle geskiedenis.

Ek dink daar was ook ’n glimlag op Dawid se gesig en verwondering in sy oë toe hy daarna verder praat: “Here, U is my lewe, U sorg vir my.  ’n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi”  (Ps 16:5 & 6).  Hierdie besef het sy lewe onherroeplik verander.  Hy weet dat God, wat hom en sy mede-burgers van Israel gelei het op hulle pad deur die geskiedenis, dit ook in die toekoms sal doen.

Net soos Ben Hooper kan ek en jy nie die / ons geskiedenis verander nie.  Maar net soos Ben Hooper, en net soos Israel, kan ons weet dat die smart en die pyn en die terugslae van die verlede net maar ’n deel van ons geskiedenis is.  In ons geskiedenis sien ons ook dat God ons nog altyd liefgehad het.  Toe ons, soos Ben Hooper, vasgedruk was deur die sonde en ons omstandighede, het Hy sy hand op ons skouer gesit en die las wat ons gedra het, afgehaal en dit weggedra.  Só ver weg dat ons dit nooit weer sal kan kry nie.

’n Pragtige deel is inderdaad vir my afgemeet.  En nou is ek bly en juig ek en voel ek veilig, want ek het die Here altyd by my (verse 8& 9).

GebedHere, ek behoort aan U.  Daar is vir my niks goeds nie, behalwe by U.  Amen.

 

Lewer kommentaar

 

Kommentaar