Meer oor ons

Meer oor ons

9 September 1976. ’n Baie onstuimige en onseker tyd in die geskiedenis van ons land. Rondom die kerkgebou van die Moedergemeente op Somerset-Wes loop ’n paar jong mans in die strate en hou wag oor die motors wat op die parkeerterrein van die kerkgebou en in die strate rondom die kerkgebou staan. Binne-in die gebou is ’n baie belangrike kerkraadsvergadering aan die gang. Daar word gestem oor die moontlike afstigting van ’n deel van die gemeente. 

Dít is hoe die NG Kerk Hottentots-Holland tot stand gekom het. In ’n tyd van politieke onrus. Terwyl die land gebrand het en daar só baie onsekerheid oor die toekoms was, het ’n groep gelowiges die geloofsrisiko geneem om ’n eie gemeente te vorm.

Die geloofs-vertroue waarvan die begin van die gemeente spreek, het deur die jare deel van die gemeente gebly en ons in staat gestel om staande te bly, ten spyte van “die hel se woede” (Liedboek 477:1). ’n Paar weke voordat die jong en opgewonde gemeente hulle kerkgebou op 9 September 1979 in gebruik sou neem, het die geliefde ds. Gerjo van der Merwe onverwags gesterf aan breinbloeding. Hy is ’n paar dae voordat die kerkgebou in gebruik geneem sou word uit die byna-voltooide kerkgebou begrawe.

Menslik gesproke was die gemeente hulle anker kwyt, maar gelukkig het hulle toe reeds geleer dat hulle nie na die omstandighede moet kyk nie, maar na God. Nóg ’n paar keer daarna het die gemeente deur soortgelyke driwwe gestap.

Die gemeente se groei het daartoe gelei dat ds. Pieter Combrink in 1982 as pastorale hulp aangestel is om vir ds. Johann Nel te help. In 1987 het die gemeente ‘n tweede leraarspos geskep en ds. Hennie Fouché het die beroep na die gemeente aanvaar. In 2001 het ds. Ewald van Rensburg hom by die gemeente aangesluit ná Johann se aftrede. In die laat 1990’s is ’n volgende tree gegee toe ook die dienste van ’n jeugwerker bekom is. 

Alhoewel die gemeente vanaf die begin beskik het oor ‘n baie doelmatige gemeente-sentrum, is dit in die vroeë jare negentig uitgebrei met ‘n konsistorie en en jeuglokaal en nog ’n paar kategese-lokale. Laasgenoemde word deesdae as kantore gebruik en die konsistorie het intussen begin diens doen as familiekamer.

Saam met hierdie veranderinge aan die gebou is die destydse klein preekstoel ook vervang met ‘n heelwat groter preekstoel. Terselfdertyd is daar ook ‘n bypassende nagmaalstafel laat maak.

Soos alle NG gemeentes het Hottentots-Holland ook ‘n kerkraad gehad wat bestaan het uit ‘n ouderling en diaken vir elke wyk. Dit het meegebring dat die kerkraad aan die begin van die jare 2000 bestaan het uit sowat 80 kerkraadslede: 76 ouderlinge en diakens (vir die 38 wyke) en ook nog ‘n paar addisionele lede, o.a. die leier-ouderling en –diaken en fondse voorsitter – wat nie wyke gehad het nie.

Mettertyd het hierdie stelsel baie lomp geraak en het dit ook al hoe moeiliker geword om genoeg kerkraadslede te vind. Daarom het die kerkraad in 2002 ‘n proses begin om nuut te dink oor die bestuur en administrasie van die gemeente. Sedert 2003 word die gemeente bestuur deur ‘n kerkraad, wat bestaan uit 12 lede, plus die dominees en die jeugwerker.

Terselfdertyd het die gemeente hulle visie geformuleer: ‘n Familie wat liefhet soos Jesus liefhet. Ons gee aan hierdie visie gestalte deur as dissipels van Jesus Hom te verteenwoordig waar ons ons elke oomblik bevind.